SAMPIOENTERT BY BRAAIVLEIS
[HEMELS LEKKER!]
Vir 6 mense
Die rand raak lekker bros endie pap absorbeer die sampioene se sous.
2 koppies water
½ teelepel sout
225 g braaipap, of ‘n mengsel van polenta en mieliemeel
2 koppies Gruyerekaas, gerasper
1 klein ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
750 g (3 pakkies) gemengde bruin en portobellosampioene, in skyfies gesny
olyfolie of botter
¼ koppie balsemiekasyn
2 eetlepels bruinsuiker
4 eetlepels sojasous
¼ koppie pietersielie, gekap
2 eetlepels vars tiemie of roosmaryn, gekap
Verhit die water en sout tot kookpunt. Roer die meel by en laat dit vir 20 minute prut tot dit gaar is.
Roer ‘n hand vol kaas by die pap in.
Spoel ‘n vlak bak (20 x 30cm) met koue water uit (dit keer dat die pap vassit) en keer die pap daarin uit. Sprei dit eweredig uit. Bedek dit met foelie en laat die pap oornag afkoel.
Braai die ui, knoffel en sampioene in ‘n bietjie botter of olyfolie in ‘n pan. Gooi die asyn, suiker, sojasous en gekapte kruie na 5minute by. Laat die helfte van die vloeistof wegkook. Proe en voeg nog sojasous, asyn of suiker na smaak by, en laat prut. Verwyder dit van die hitte en voeg 2 eetlepels botter by.
Keer die koue pap op ‘n werkoppervlak uit en sny dit in twee ewe groot blokke. Sit die een blok op ‘n oondpan wat met botter of olyfolie gesmeer is. Skep driekwart van die sampioenmengsel op die pap en strooi ‘n hand vol kaas bo-oor. Sit die ander blok pap soos ‘n kors bo-op. Strooi die res van die kaas bo-oor en besprinkel met ‘n klein bietjie olyfolie.
Bak dit vir 30 minute by 180°C tot die bokant bros is. Sny die tert in skywe en sit dit saam met die res van die sampioensous bo-oor voor.
FOTO: Benhet Nieuwenhuis
Nota: en so werk alles nie altyd soos dit moet nie!
Gelukkig is floppies die lekkerste!!!!!!!!! myne wou nie opmekaar bly toe hy begin bak nie maar die smaak was lekker!!!!!!!! ekt net minder tiemie in.